Hoe doen ons kerk?
Samekoms
Die ekklesia of kerk, is beide 'n verwysing na alle gelowiges van alle tye en ook die samekoms van gelowiges. Ons wil mense wees wat saamkom om die Here te aanbid, oor Hom te leer uit Sy Woord, en daar te wees vir mekaar. Maar ons wil ook mense wees wat die goeie nuus oor Jesus uitdra en 'n verskil maak in ons gemeenskap.
In ons samekoms mik ons na 'n ontspannende en deelnemende atmosfeer, en ons probeer om mekaar in te sluit en betrokke te wees. Jy kom nie net om te ontvang nie, maar ook om te gee, en te groei.


Wat sê die Skrif?
Ons wil nie kerk doen soos enige tradisie voorskryf, of self hoe ons lus voel nie, ons wil kerk doen soos die Bybel dit aan ons onthul.
In die samekoms van God se mense gee die Bybel groot vryheid, want dit gaan daaroor om die lewende God lief te hê. Ons hoef dus nie 'n orde, gebruike, of 'n formule te volg nie. Daar word wel sekere riglyne gegee.
Kerk lyk nie noodwendig soos jy dink dit moet lyk nie...
Samekoms +
Kerk is nie net saamwees op die Dag van die Here nie. Dit is saamkom in die week om deur die Skrif te gaan en te leer, dit is maak van dissipels, en dit is om saam te lewe in Christus, tot Sy glorie. Ons wil meer as 'n groep mense wat op 'n Sondag vergader wees. Ons wil saam Jesus liefhê, en dit saam uitleef.
Klein samekomste
Om elkeen 'n geleentheid te gee om by te dra tot ons byeenkomste, en werklik 'n impak op mekaar se lewens te maak, glo ons word die beste gedoen binne klein samekomste. Terwyl dit werk vir sommige kerke om in groot getalle bymekaar te kom, verkies ons om ons kerk-wees in klein getalle te doen.