Volledige Geloofsbelydenis

Die Bybel – God se Woord

Die Skrif van die Ou en Nuwe Testamente is deur God inspireer, en is foutloos, onfeilbaar en sonder weerspreking in die oorspronklike geskrifte, en alle vertalings daaraan getrou, en is die hoogste en finale gesag in sake van geloof en lewe.

In sy Woord, maak God homself en sy wil aan die werk van sy hande bekend, en na die sluiting van die Skrif, bestaande uit ses-en-sestig kanoniese boeke, is daar geen verdere en bykomende profetiese openbaring nie.

Drie-Enige God

Die Ware en Lewende God is een wese; bestaande uit drie gelyke Persone; die Vader, Seun, en Heilige Gees.

Elk van die drie Persone is volledig en volkome God, en elk word in die Skrif bekend gemaak dat hul al die eienskappe van God, in volkome mate besit. Die Vader, Seun en Heilige Gees het van ewigheid bestaan in die verhouding waarna ons verwys as Drie-Eenheid.

God het alle mag, alle kennis, alle wysheid, en is waardig om alle heerlikheid, eer en lof te ontvang. God is soewerein oor alles wat bestaan en alles wat gebeur vind plaas volgens die besluit van God.

Ons bely ook dat die Here God Drie-Enig heilig is, betekend dat Hy sonder fout, of gebrek, of skadu van verandering, boosheid, kwaad of duisternis is, maar ook dat Hy van verhewe aard en wese is, gans anders, geskei van, en verhewe bo Sy skepping.

Die Skepping

Tyd, ruimte en energie het begin toe God, uit niks, geskape het. God het die aarde in ses letterlike dae gemaak, met Adam en Eva die eerste letterlike mense, geskape na sy beeld, onderskeidelik manlik en vroulik. Die skeppingverslag in Génesis is nie versoenbaar met die teorie van evolusie nie. Evolusie is ’n leun van Satan. Die doel van die skepping, insluitende die skape van die mens, was dat God se handewerk hom sou verheerlik. Die mens is dus nie vir homself nie, maar vir God gemaak.

Die Mens

Die mens, wat as ewiglewende en perfekte wese gemaak is, het in sonde geval toe Adam en Eva kies om hul wil eerder as God se wil te volg. Die keuse het die sondeval tot gevolg gehad, en het beide fisiese en geestelike dood in die skepping gebring.

As gevolg van die sonde van die mensdom se verteenwoordiger, Adam, en die bederf van die menslike natuur na ’n sondige natuur, is alle mense se verhouding met God gebreek en streef hul daarna om hulle eie god te wees en, as sulks, staan alle mense onder God se oordeel en toorn, en hulle regverdige verdienste ewige straf in die vuur van hel is.

Die gevolg van die sondeval is verder dat alle mense van natuur moreel korrup is, onder slawerny van sonde staan, en vervreemd van God is. Hierdie sondeval het elke deel van die mens, beide mans sowel as vroue, geraak. Die mens het dus geen vermoë of wil om na God te draai nie en verwerp en onderdruk alle waarhede wat God van homself in sy skepping onthul.

God se plan van verlossing

Om sy genade aan die skepping ten toon te stel, het God reeds voordat hy geskape het, sy plan van verlossing daargestel. Verlossing is geheel en van God se genade afkomstig, gegrond op die lewensbloed wat die tweede Persoon van die Drie-Eenheid, Jesus Christus, aan die kruis tot sy dood gegiet het. Geen mens kan dus redding deur werke of meriete verkry nie.

Die menswording van Jesus Christus, die Seun van God, staan sentraal tot God se verlossingsplan. Sy inkarnasie, of menswording, is bonatuurlik deur die Vader, ontvang deur die Heilige Gees en gebore uit die maagd Maria, bewerkstellig. Jesus is dus waarlik God en waarlik Mens; die enigste Middelaar tussen God en die mens. As die sondelose Seun van God het hy aan alle geregtigheid voldoen en homself gegee as ‘n plaasvervangende offer as betaling vir die sondeskuld van die wat in hom glo as enigste Verlosser.

Dat hy werklik die Seun van God is, is bewys toe hy op die derde dag liggaamlik uit die dood opgestaan het en opgevaar het na die hemel, waar Hy aan die regterhand van die Vader sit as Heerser oor alle dinge. Daar tree hy nou vir ons as ons Hoëpriester en Middelaar voor God in, en hy sal sigbaar en persoonlik terugkeer om die lewendes en die dooies te oordeel.

Bekering en redding

’n Mens word gered van die ewigdurende oordeel in ’n fisiese hel deur hom/haar te bekeer – wat beteken om jou sondes te bely en daarvan weg te draai, en om tot geloof in Jesus Christus te kom – om op hom en sy voltooide werk aan die kruis te vertrou as betaling vir jou sonde. Maar dit is nie ’n keuse of werk van die mens self nie.

Omdat die mens in sy sondige natuur geestelik dood is, en nie God as God wil erken nie, is bekering en redding nie iets wat enige iemand kan kies, of self kan bewerkstellig nie. Geloof is genade vanaf God. Die Heilige Gees, in Sy soewereine werk, baseer op die aanhoor van die Evangelie van Jesus Christus, en die onweerstaanbare roeping van die Vader, bring ‘n verandering in die wat so geroep word. Hierdie verandering veroorsaak ’n volslae ommekeer in die mens se lewe en begeertes, en word die wedergeboorte genoem. Diegene wat so wedergebore is, is kinders van God en sal deur die belofte van die Here Jesus Christus op doeldienende wyse in die komende koningkryk ingebring word.

Die Skrif maak dit duidelik dat uitverkiesing ‘n daad van God is waardeur hy, in Jesus, voor die skepping van die wêreld diegene uitverkies het wat hy uit genade roep, vryspreek, vernuwe en verheerlik.

Heiligmaking, of die Volharding van Gelowiges

Ons bely dat die verlossing van sondaars volkome deur die werk van Christus, bewerkstellig deur die Heilige Gees, na die ewige raadsplan van die Vader, geskied. Omdat Christus dus reeds die finale prys betaal het, en omdat ons reeds, toe ons steeds vyande van God was, deur Hom vanuit die ewige en geestelike dood gewek is, bely ons ook dat die gelowige nie sy heil kan verloor nie.

Die Kerk

Die Nuwe-Testamentiese kerk is een Liggaam in Christus, wat bestaan uit al sy wedergebore kinders wêreldwyd wat in geloof met die Here Jesus Christus verenig is.

Hierdie een Liggaam, word in al die plaaslike kerke wat die ware Evangelie verkondig, en wat hul by die waarheid van God se Woord rig, sigbaar gemaak. Dit is waar gelowiges vir vreugdevolle aanbidding, onderrig in die Skrif, wedersydse opbou en vermaning, en om saam die Evangelie te versprei, bymekaar kom.

In die leer van die Nuwe Testament erken ons dat die Here Jesus Christus die Hoof van die kerk is, en dat alle lede van die plaaslike liggaam gelyk onder hom staan in geloof, en almal in die kerk geroep is om die plaaslike liggaam te dien. Soos gegee in die Skrif, glo ons ook dat daar geskikte en bekwame mans geroep word om die plaaslike kerk te lei as ouderlinge.

Ons glo dat die plaaslike kerk selfregerend behoort te wees en dat dit al sy byeenkomste, woorde en dade volgens die waarheid en gesag van Christus gerig moet wees. Indien enige ander gesag ooit van die plaaslike kerk vereis om te praat of te handel op 'n manier wat met wat Christus in die Skrif sê strydig is, word die kerk geroep om Christus eerder as mense te gehoorsaam.

Die werk van die Heilige Gees in die Kerk

Jesus bou sy kerk deur die Gees wat nuwe lewe gee en mense tot bekering en geloof in Jesus Christus bring. Elke gelowige is met die Heilige Gees geseël, en hy woon in elke gelowige.

Die Gees is dan ook verder sentraal in die heiligmaking van gelowiges, en die werk van die kerk in terme van die verkondiging van die Woord, die opbou van die gelowiges en die uitdra van die evangelie.

Ter heiligmaking van die gelowiges, en tot die glorie van God, werk die Gees in die gelowige om stelselmatig, volgens sy perfekte wil en genade, die gelowige te verander met die doel om hom of haar meer soos Christus Jesus te maak. Dit bereik hy deur die vrugte van die Gees, liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing in die gelowige aan te wakker, en te laat groei.

Die Heilige Gees gee verder gawes aan die Liggaam van Gelowiges volgens sy soewereine wil en doel, vir die toerusting van die heiliges; vir die werk van die bediening; en vir die opbou van die liggaam van Christus. Die gawes is bedoel om die kerk te versterk, die Evangelie te versprei, en God te verheerlik.

Hierdie gawes moet nie met die gawes van die Apostoliese tyd verwar word nie. Die gawes van wonderwerke verrig, onmiddellike bonatuurlike genesing en profesie as nuwe onthulling was spesifiek gegee om geloofwaardigheid aan die nuwe, onbekende boodskap van die Evangelie te verleen, die kerk tot stand te bring, en die Bybel te voltooi. Die gawes is nie meer aanwesig in die alledaagse lewe van die gevestigde kerk nie.

Die gawe van die spreek in tale het ook, soos bevestig in die Skrif, geen rol in die byeenkomste van gelowiges nie, tensy enige sulks ter selfde tyd vertaal word; tot die opbou en aanmoediging van almal wat hoor.

Ordonnansies van die kerk

Die doop is ‘n getuienis van iemand wat tot reddende geloof in Jesus Christus as enigste Verlosser gekom het, en vind deur onderdompeling plaas. Dit beeld uit dat die gelowige met Jesus in sy dood, verenig is, en, in dieselfde wyse, in hom sal opstaan tot ’n nuwe lewe. Ons bevestig dat die doop van babas nie Skriftelik is nie.

Die nagmaal is ’n herdenkings- en feesmaal vir dié wat wedergebore is. Die bestanddele, naamlik die brood en wyn, simboliseer die liggaam en bloed van die Here Jesus en lei ons om sy liggaam, wat vir ons op die kruis as betaling van ons sondeskuld gebreek is, te herdenk; en sy bloed wat om ons in ’n nuwe verbond met hom te bring uitgegiet is, ter herinnering te roep. Tydens die nagmaal kyk ons ook vooruit en vier die waarheid en hoop van sy wederkoms en die heerskappy van sy ewige koninkryk.

Komplementere rolle

God het die mens gemaak as man en vrou, beide in sy beeld, gelyk in waarde maar verskillend in rol. Die Skrif is duidelik dat dié rolle God se skeppingsorde weerspieël, naamlik dat Adam eers gemaak is, en daarna Eva uit hom. Hierdie rolverdeling is dan van toepassing op die gesin en die kerk.

Binne die huwelik en gesin, moet die man die leiersrol neem, veral vir die geestelike leiding van die familie, terwyl sy vrou hom in onderdanigheid ondersteun. Die man moet dieselfde liefde wat Christus aan die kerk getoon het, aan sy vrou toon.

Binne die kerk word die leiersrol van die ouderling, wat die predikant of leraar insluit, dan ook slegs aan mans, wat aan die Bybelse vereistes voldoen, en deur die Heilige Gees identifiseer word, gegee.

Die begeerte om van hierdie Godgegewe struktuur af te wyk is deel van die sondeval en rebellie teen God en sy wil.

Aborsie, Geslag, Huwelik en Seksuele Suiwerheid

Alle menslike lewe word deur God geskep en is vir hom heilig, en begin by bevrugting, en mag dus nie vrywillig op enige stadium beëindig word nie. Na Sy raad, en in sy skeppingsliefde en -wysheid, en tot sy eer en roem, skep God elke persoon vanaf bevrugting as óf man, óf vrou .

Alle persoonlike keuses van seksuele afwyking – insluitend homoseksualiteit en die verwerping van jou biologiese geslag in ruil vir ’n ander – wat in stryd met God se soewereine skeppingsbesluit is, is rebellie van die sondige mens teen die persoon van God.

Die Skif is duidelik dat God die huwelik as 'n uitsluitlike en lewenslange verbintenis tussen 'n natuurlike man en 'n natuurlike vrou, in ’n heilige verbond, ontwerp het. Hy het aan die man die verantwoordelikheid van sorgsame leierskap gegee, en aan die vrou die rol van bystand en ondersteuning.

Seksuele intimiteit mag slegs binne die huwelik tussen 'n man en 'n vrou plaasvind. Ons glo dat die sonde in ons seksuele lewens wanorde gebring het, en dat enige vorm van seksuele onsedelikheid, insluitend voorhuwelikse geslagsverkeer, egbreuk, homoseksuele gedrag, biseksuele praktyke en die gebruik van pornografie, persoonlik vernietigend, en sondig voor God is.

Die Eindtyd - Die Wederkoms van Christus

Die eindtyd het met die menswording van die Here Jesus begin, en die Skrif getuig dat ons reeds in die laaste uur is; die tyd van die groot verdrukking.

Ons beaam dat daar geen wegraping van die kerk in hierdie tyd, of daarna, plaasvind nie, en dat die Here Jesus aan die einde van die tyd van verdrukking om die lewendes en die dooies te oordeel, terugkeer, en sy ewige koningkryk fisies op die hernude aarde te vestig waar Hy vir ewig, as God met ons, sal heers.

Tot sy wederkoms behoort gelowiges lewens te lei wat God, deur hulle gehoorsame dissipelskap aan Jesus Christus, verheerlik, en moet die kerk besig met die werk van evangelisasie en dissipelskap wees, naamlik deur die suiwer, onverdraaide Evangelie van Christus te verkondig en die Woord van God te leer.